As jy op ‘n klein plekkie woon en nog steeds bome wil plant, moenie moedeloos raak nie – daar bestaan heelwat pragtige bome wat nommerpas vir klein tuintjies is
|
Bome speel ‘n besondere groot rol in enige tuin. Hul blare en takke verleen skadu en beskutting, hulle mag blomme produseer wat voëls, skoenlappers en bye lok, hulle vorm skuttings teen geluid en wind en privaatheid van buureiendomme word daardeur verseker. Kannabas (Dais cotinifolia). ‘n Vinniggroeiende immergroen boom met ‘n hoogte en wydte van 5m x 3m. Dit dra fraai pienk blomme in die somer en die blad vergeel pragtig in die herfs. Karee (Searsia lancea voorheen bekend as Rhus lancea). ‘n Baie geharde immergroen boom met ‘n interessante stam en boomvertakkings. Dit het ‘n hoogte en wydte van 7m x 5m met lang, smal hangende blare. Witkaree (Searsia pendulina voorheen Rhus pendulina). ‘n Waterwyse, immergroen boom met aantreklike, wilgagtige loof. Die hoogte en wydte is 7m x 5m. Dit dra ligte groen blare en blomtakkies met groenerige geel blommetjies. Tierhout (Loxostylis alata). Hierdie immergroen boom gedy in warmer areas. Dit het ‘n kompakte vorm en groei tot 5m x 4m. Nuwe lenteloof is rooi en dit word gevolg deur aantreklike blomme en vrugte in die somer. Laventelboom (Heteropyxis natalensis). ‘n Bladwisselende boom wat tot 6m hoog en 5m breed groei. Sy loof laat ‘n soet laventelgeur vry wanneer dit gekneus word. Die aantreklike boombas is aanvanklik glad en wit maar word grys en skilfer af namate dit verouder om kolle oranjebruin bas bloot te stel. Die nuwe lentegroei vertoon ‘n sweempie rooi, in die somer word dit blinkgroen en in die herfs word met seisoenale kleure gespog. Katjiepiering (Gardenia thunbergia). Hierdie immergroen boom groei tot ‘n hoogte van 2,5m en ‘n spreiwydte van 1,5m. Dit dra welriekende wit blomme in die somer. Boswilg (Combretum kraussii). ‘n Bladwisselende boom met ‘n hoogte en wydte van 7m x 4m. Die herfskleure van die boom is skitterend en sy digte blaredak sorg vir lieflike koelte. Drolpeer (Dombeya rotundifolia). ‘n Bladwisselende boom wat tot 6m hoog groei. Dra trosse wit blomme in die lente. Plant bome aan die noordelike sy van jou huis om dit teen die warm somerson te beskut. Bladwisselende bome is ‘n goeie keuse weens hul bladverlies in die winter wat daarvoor sorg dat jou tuiste broodnodige sonlig in die kouer maande kry Immergroen bome is ideaal om privaatheid te verskaf en as geluidsdemper aan die straatkant van jou huis te dien. In klein tuintjies kan die onderste takke van bome afgesnoei word om meer lig in die huis of tuin toe te laat. Wanneer jy ‘n boom aanskaf by jou plaaslike tuinsentrum, vind uit of dit nie te groot vir jou tuin sal word nie. Maak seker dat jy nie bome reg langs die mure van jou huis of grensmure plant nie, omdat die spreidende wortels strukturele probleme kan veroorsaak. Vermy die aanplant van bome naby swembaddens of dammetjies – die vallende blare sal vir baie bykomende werk sorg. Boomfuchsia (Halleria lucida). Hierdie boom word beskou as een van die beste bome om voëls na jou tuin toe te lok. Beide sy blomme en vrugte is gunstelinge van voëls, terwyl skoenlappers dol op die blomnektar is. Dit is ‘n immergroen boom wat vinnig ‘n hoogte van 4m bereik. Dit verduur matige ryp en ook skadu. Pterocarpus rotundifolius. Hierdie bladwisselende boom bereik ‘n hoogte van ongeveer 12m met ‘n wydspreidende kroon. In die lente lok dit goudgeel blomme voëls, bye en ander insekte. In die winter dra die kaal takke stekelrige ronde peule. Dit verdra matige ryp en dit is waterwys.
|
|












