|
Dit wil dalk voorkom of dit nog veels te vroeg is om oor wintergroente te praat, maar dis nou juis die aangewese tyd om vir die koeler maande in die kombuistuin te beplan. Daar is niks lekkerder as groente uit jou eie tuin nie en die volgende smullekker groente kan nou gesaai word:
Boontjies Saai vandeesmaand rankboontjies en bosboontjies in koeler gebiede sodat hulle voor die eerste rypneerslae geoes kan word. Dien een week nadat die saailinge verskyn 'n gebalanseerde misstof wat spesifiek vir groente is, toe en lei daarna goed nat. As die plante nie welig groei nie, kan hierdie toedienings met blomtyd herhaal word. Pluk die jong bone vir 'n groter oes en 'n langer oestyd.
Broccoli en blomkool Saai vandeesmaand saad wat in die herfs uitgeplant kan word. Broccoli en blomkool behoort goed te groei as dit in Januarie in koeler gebiede gesaai word en in Februarie in warmer areas.
Wortels Saai wortels van Januarie tot middel-Februarie in koel gebiede om 'n goeie oes te verseker. Hierdie wortels kan vir 'n lang tydperk gedurende die winter in die grond gestoor word. In warmer gebiede kan wortels in Maart gesaai word want dis die produktiefste maand in hierdie areas. In warm weer kan 'n ligte deklaag bo-op die saai-area toegedien word omdat wortels nie in grond wat te warm is sal ontkiem nie.
Spinasiebeet Deur nou en weer later in Julie spinasiebeet in die koeler gebiede te saai, sal 'n goeie oes dwarsdeur die jaar verseker. Saad wat nou gesaai word, sal tot in Oktober 'n oes verseker. In warmer areas moet daar liefs in Maart gesaai word.
Prei en rape Saai prei nou sodat jy dit by heerlike sop in die winterkoue kan byvoeg. In koeler areas sal prei dwarsdeur die jaar groei as dit ook in Julie gesaai word en as daar genoeg op 'n slag gesaai word. Saai rape in Maart en April om saam met die prei vir die sop te gebruik.
Kalbasse Die lede van hierdie familie wat nog vroeg in Januarie in koeler gebiede gesaai kan word, is murgpampoentjies, komkommers en skorsies.
|